Co-Parenting
Streeks- maatskaplike werker Maruné Burger hanteer die afgelope tyd baie navrae oor gesamentlike ouerskap (co-parenting). Dit verwys na ‘n situasie waar ouers nie meer in ‘n verhouding is nie, maar steeds saamwerk om besluite te neem en op te tree in die beste belang van hul kind. ‘n Goeie riglyn oor hoe om dit suksesvol te hanteer, sluit in dat beide ouers konsekwent moet wees ten opsigte van dissipline, roetines, reëls en verwagtinge in albei huise. Dit skep stabiliteit en sekuriteit vir die kind.
Goeie co-parenting beteken nie dat julle oor alles hoef saam te stem of beste vriende hoef te wees nie. Dit beteken wel dat julle:
- die kind se behoeftes eerste stel;
- mekaar met respek behandel;
- nie die kind by volwasse konflik betrek nie;
- mekaar se verhouding met die kind ondersteun; en
- saamwerk om ‘n veilige, voorspelbare omgewing vir die kind te skep.
Wanneer ouers ouerskap effektief saam beoefen, ervaar kinders dikwels minder spanning, beter emosionele welstand en voel hulle veilig om ‘n gesonde verhouding met beide ouers te hê.
Onthou: ‘n Goeie ouerskapvennootskap ná ‘n egskeiding gaan nie oor die verlede tussen die ouers nie, maar oor die toekoms van die kind.
