STORIE VAN HOOP – DIE HART AGTER MY ONDERWYSLOOPBAAN
My naam is Zelné van Zyl. Ek is twintig jaar oud, woon in Bethal, Mpumalanga en is die jongste van drie kinders en die enigste dogter. Ek is tans ‘n tweedejaarstudent aan die Noordwes-Universiteit en studeer vir ‘n BEd-graad in Senior Fase en VOO. Ek het in Januarie 2025 as ‘n studentonderwyseres by Jim van Tonderskool hier in Bethal begin werk.
As ek nou moet eerlik wees, wou ek oorspronklik nie onderwys studeer nie. Ek wou met ‘n seer hart graag in die gasvryheidsbedryf gaan en ‘n sjefkwalifikasie kry, sodat ek eendag my eie koffiewinkel saam met my ma iewers by die see kon oopmaak. Alhoewel dit steeds ‘n groot droom en selfs ‘n toekomsplan is, wou dinge net nie so in plek val nie. Maar ek het vinnig besef: Soms gee die lewe nie vir jou jou hartsbegeertes nie, dit gee jou iets beter.
Vandag bevind ek my by ‘n LSEN-skool. Hierdie skool is spesiaal ingerig vir leerders met onderrigbehoeftes waaraan gewone hoofstroomskole nie kan voldoen nie. Die meeste van die leerders in die skool sukkel met ADHD, disleksie, matige gehoor- of siggestremdhede, intellektuele uitdagings, en emosionele of gedragsprobleme. Van die leerders kom uit ongelooflik moeilike huishoudelike omstandighede. Party het ouers verloor, party woon by grootouers, en ander ken nie eers die gevoel van ‘n veilige huis nie. Vir sommige van hierdie kinders is die skool die enigste plek waar hulle regtig gesien, gehoor en liefgehê voel.
Aan die begin was dit vir my as jong vroulike student oorweldigend. Ek het soms gewonder of ek genoeg is – of ek genoeg geduld het, of ek sterk genoeg is, of ek goed genoeg toegerus is om hierdie kinders te help dra aan die swaar wat hulle elke dag saam klas toe bring. Maar mettertyd het ek besef dat hierdie leerders nie iemand nodig het wat perfek is nie – hulle het iemand nodig wat opdaag, iemand wat luister, iemand wat hulle name onthou, hulle moeite raaksien, en hulle laat voel dat hulle bestaan saak maak.
Ek het self ‘n ouer verloor. My pa is aan die begin van my graad 11-jaar oorlede, en dit het natuurlik die belangrikste jaar van my hoërskoolloopbaan vir my amper ondraagbaar gemaak. Ek het meer as een vak amper gedruip, ek het myself begin verloor, ek het vriende weggestoot, my familie op ‘n afstand gehou, en my seer uitgehaal op mense wat dit die minste verdien het. Daar was dae wat ek gevoel het niemand verstaan regtig hoe dit voel om so skielik iemand te verloor wat deel van jou hele wêreld was nie.
Toe stap mevrou Anri van Tonder my lewe binne. Sy het my nie probeer “regmaak” nie. Sy het net daar gebly. Sy het geluister wanneer ek wou praat en stil langs my gesit wanneer ek nie woorde gehad het nie. Sy het my herinner dat rou nie ‘n tydsbeperking het nie, en dat swak dae nie beteken jy is swak nie. Sy het my gehelp om weer lig raak te sien in ‘n tyd toe alles vir my donker gevoel het. Sy het my gehelp om weer my verhouding met God op te bou, om weer in myself te begin glo, en om te verstaan dat my storie nie geëindig het met my pa se dood nie.
Die wete dat haar deur altyd oop was, het iets in my verander. Dit het my laat besef hoe groot die invloed van een onderwyser op ‘n kind se lewe werklik kan wees. Nie net akademies nie, maar emosioneel, geestelik en ook menslik.
Vandag staan ek voor ‘n klas vol leerders – party met seer harte, party met frustrasie, party met woede, onsekerheid of vrees – en ek streef daarna om vir hulle te wees wie mevrou Anri vir my was. Ek wil die juffrou wees wat ‘n leerder veilig laat voel. Die juffrou wat raaksien wanneer ‘n kind stil raak. Die juffrou wat verstaan dat swak gedrag soms eintlik net ‘n stil hulpkreet is.
Een ding wat ek vroeg in my onderwysloopbaan besef het, is dat ‘n mens nooit regtig weet wat in iemand se hart aangaan nie, of wat agter toe deure gebeur nie. Die stoutste kind in jou klas kan dalk die kind wees wat elke aand huil voor hy slaap. Die leerder wat nooit huiswerk doen nie, het dalk niemand by die huis om hom te help nie. Die kind wat altyd kwaad voorkom, kan dalk net desperaat wees vir liefde en aandag.
Dit is hoekom ek glo dat genade een van die belangrikste dinge in ‘n klaskamer is. Nie net dissipline nie. Nie net punte nie. Maar genade, begrip, en geduld. Want soms verander jy nie ‘n kind se lewe met groot gebare nie – soms verander jy dit net deur konsekwent daar te wees en op te daag.
Ek dink nie meer my pad na onderwys was ‘n “plan B” nie. Ek dink dit was altyd die plek waar ek moes eindig. Want deur my eie pyn het ek geleer hoe om ander mense s’n sagter te hanteer. Deur my eie verlies het ek geleer hoe belangrik dit is om net een veilige persoon in jou lewe te hê.
En dalk is dit wat hoop regtig is – nie dat alles perfek uitdraai nie, maar dat jou seerste oomblikke eendag iemand anders se redding kan word.
As daar een ding is wat ek vir al die jongmense daar buite kon sê, iets wat ek wens iemand vir my gesê het toe ek dit die meeste nodig gehad het, is dit dat die Here nie teen jou is nie. Hy sal nooit iets oor jou pad stuur wat Hy nie weet jy sterk genoeg is om te dra nie. Moet nooit bang wees om met Hom te praat oor die dinge wat jou pla nie, want Hy luister, al is trane al wat jy kan bied. Hy doen wat gedoen moet word presies wanneer dit gedoen moet word.
Ek deel graag ‘n paar Bybelverse wat ek baie na aan my hart dra:
Jeremia 29:11 “Ek weet wat Ek vir julle beplan,” sê die Here. “Voorspoed en nie teenspoed nie; Ek wil vir julle ‘n toekoms gee, ‘n verwagting!”
Romeine 8:28 “Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet, dié wat volgens sy besluit geroep is.”
Jesaja 41:10 “Moenie bang wees nie, want Ek is by jou. Moenie bekommerd wees nie, want Ek is jou God. Ek versterk jou, Ek help jou, Ek hou jou vas met my oorwinnende regterhand.”
Psalm 34:19 “Die Here is naby dié wie se harte gebreek is; Hy red dié wat moed verloor het.”
Galasiërs 6:9 “Laat ons daarom nie moeg word om goed te doen nie, want as ons nie verslap nie, sal ons op die regte tyd die oes insamel.”
Spreuke 3:5-6 “Vertrou volkome op die Here en moenie op jou eie insigte staatmaak nie. Ken Hom in alles wat jy doen, en Hy sal jou die regte pad laat loop.”
Psalm 147:3 “Hy maak die gebrokenes van hart gesond; Hy verbind hulle wonde.”
Filippense 4:13 “Ek is tot alles in staat deur Christus wat my krag gee.”
Johannes 13:7 “Jesus antwoord hom: ‘Wat Ek doen, verstaan jy nie nou nie, maar later sal jy dit begryp.'”
Jesaja 60:22 “Wanneer die tyd daarvoor reg is, sal Ek, die Here, dit vinnig laat gebeur.”
