Sensoriesereguleringsbokse bring hoop in skole
In ‘n wêreld waar baie kinders daagliks uitdagings soos trauma, angs en konsentrasieprobleme beleef, raak praktiese ondersteuning al hoe belangriker. Hierdie behoefte het gelei tot die ontstaan van die sensoriese reguleringsbokse – ‘n eenvoudige maar kragtige hulpmiddel om leerders in die grondslagfase te ondersteun.
Danksy die ruimhartigheid van ‘n kerk in Witbank is verskeie van die bokse aan ons geskenk. Dit word nou versprei na skoolberaders in Witbank, Bethal, Secunda en Nelspruit waar dit direk tot voordeel van jong leerders gebruik word.
Die doel van die sensoriese reguleringsbokse is om kinders te help om hul emosies en gedrag met behulp van hul sintuie te reguleer. Elke boks bevat ‘n verskeidenheid items en aktiwiteite wat spesifiek gekies is om kinders te help kalmeer en fokus en weer beheer oor hulself te kry.
By kinders wat trauma ervaar het, kan ‘n eenvoudige situasie by die skool ‘n emosionele reaksie ontlok wat dit vir hulle moeilik maak om hul dagtake te voltooi. Die sensoriese hulpmiddels bied aan hulle ‘n manier om hulself te grond en weer veilig te voel. Net so help die aktiwiteite ook kinders met aandaggebrek-hiperaktiwiteitsteuring (ADHD) wat sukkel om stil te sit of te fokus om hul energie op ‘n konstruktiewe manier te kanaliseer.
Hierdie projek is ‘n bewys dat klein, deurdagte intervensies ‘n groot verskil kan maak. Deur kinders te help om hulself beter te verstaan en te reguleer, skep ons nie net ‘n beter leeromgewing nie, maar bou ons ook aan hul langtermynwelstand.
Wil jy betrokke raak by hierdie projek of moontlik ‘n boks skenk? Kontak Maruné van Vreden: 063 634 7657.
