Hoekom Ons Spreekkamer?
In byna ‘n dekade van Ons Spreekkamer het die Here se genade gegroei oor elke aspek van hierdie projek. Dit het begin in ‘n dorre tyd in Witbank toe daar geen hoop was vir sommige mense wat deur die Highveld Steel and Vanadium-afleggings geraak is nie. Mediese fondse het skielik tot stilstand gekom, en bejaardes en kinders kon nie by dokters uitkom nie. Uit hierdie hartsprojek het hoop gevloei, nie net vir nou nie, maar vir ‘n toekoms waarin hulp gebied word aan ons nageslagte.
Sedert met Ons Spreekkamer Witbank begin is, is nog drie Ons Spreekkamers gevestig waarvan een ‘n sytak is van Ons Spreekkamer Witbank. Elkeen funksioneer op ‘n unieke wyse, maar een ding wat deurlopend konstant bly, is dat dienste gelewer word.
Ons Spreekkamer Nelspruit het sy deure geopen omdat daar ‘n behoefte in die gemeenskap geïdentifiseer is en die dokters aan boord se harte klop elkeen met dieselfde passie: om mense te help waar daar so ‘n groot behoefte is. Noue bande is gesmee met Paediatric Care Africa en ander instansies wat die hulpspektrum verbreed.
Ons Spreekkamer Bethal funksioneer vanuit ‘n plaaslike apteek in Bethal en die unieke dienste hier ondervang hoofsaaklik kinders wat in koshuise geplaas is en nie toegang tot die mediese stelsel het nie.
Ons Spreekkamer Carolina is in 2025 gevestig met ‘n huisdokter wat een keer per maand van Witbank na Carolina reis om bejaardes in die ouetehuis te konsulteer. In hierdie plattelandse dorpie is geen Afrikaanssprekende dokters nie – en hoe lekker gesels ‘n ouma of oupa nie met ‘n so ‘n kundige persoon in hul eie taal nie!
Ons is bevoorreg om byna 10 jaar van Ons Spreekkamer te kan vier – ‘n projek wat jaarliks groei en waarvan die blywende impak werklik groot is. Hierdie mylpaal is besonders, want soveel mooi vloei daagliks daaruit.
Ons sê dankie vir jarelange ondersteuning, hulp, tyd, kennis, kundigheid, deernis, passie en liefde!
Vir meer inligting of om as vennoot of donateur betrokke te raak by die projek, kontak Melissa Nel: 072 660 7345.

