Skoolsorg – ‘n Forum wat bystaan wanneer die lewe knaag
Gebore uit ‘n warboel van idees, neergepen en rondgegooi, het een behoefte duidelik uitgestaan: ons kinders se welstand. Dit is so nodig dat ons luister en help.
Maar wie versorg die versorger?
Dit is ‘n vraag so nou aan ons gekoppel, maar ook ver buite sommiges se bereik. Met wie praat jy wanneer jy ‘n storie hoor wat nie net jou hartsnare raak nie, maar dit snaar vir snaar afbreek? Wie is jou klankbord? By wie kan jy gaan afpak en vra vir ondersteuning en raad?
Die meeste mense antwoord dalk: Ek praat met God. Ja, dit is die heel beste plek om troos te vind en jou sorge uit te stort. Maar ons het hier ‘n op aarde ook ‘n reddingsboei nodig wat die suurstoftenk aangee in ‘n oomblik van nood. Wanneer gewone mense wie se harte vir kinders klop in ‘n gesprek sit en besef die woorde wat in die kamer ronddans, het almal dieselfde ritme, word ‘n projek gebore wat nie net ‘n impak maak nie, maar wat werklik die nood in soveel harte raakhoor.
Die hartseer, die verdriet en die ongeloof van sommige stories is so hartroerend dat jy werklik net jou hande kan saamslaan en op jou knieë val in gebed. Dan, wanneer jy opstaan, sit hierdie kindjie steeds voor jou, met die lag wat lankal pad gevat het. Dit is hier waar ‘n forum poog om die moeilike vrae te beantwoord. Vrae wat nie sin maak nie, en kinders wat net aanvaarding soek in hierdie terapiekamer wat vir hulle so ‘n normale plek geword het.
Skoolsorg bied nie net ondersteuning nie, maar rus elke skoolberader toe met kennis, hulpbronne, kontakpersone, kundige raad en ook ‘n veilige hawe vir die beraders en ondersteuners wat daagliks met ongelooflike scenario’s gekonfronteer word.
Dit is wanneer ‘n mens anders moet begin dink, wanneer net eenvoudig iets gedoen moet word aan die geestesgesondheid van kinders. Die hande en harte is te min, so om ‘n span saam te stel waar jou koppie opgevul en jou hande versterk kan word, is broodnodig.
Joanél Kruger, ‘n spelterapeut in Witbank wat ook aan BioLink gekoppel is, het hande gevat met Solidariteit Helpende Hand Mpumalanga-Hoëveld- en KZN-Sentraal-streek om hierdie projek suksesvol aan te bied. Ons verwelkom enige skoolberader wat graag hier wil aansluit om met ons kontak te maak.
Melissa Nel: 072 660 7345
Joanél Kruger: 072 246 7483
Maruné van Vreden: 063 634 7657
Retha Steenkamp: 078 883 1373
